SILWERVOS
admin
September 16, 2024

IDENTIFIKASIE VAN ROOFDIERE
SILWERVOS
(VULPES CHAMA)
Konflikkategorie: lae konflikpotensiaal
Bewaringstatus: minste kommer
Algehele lengte: 86 – 97 cm; stert: 29 – 39 cm;
skouerhoogte: 30 cm; massa: 2,5 – 4 kg.
Identifikasie-aanwysers:
• jakkalsagtige voorkoms
• lang, welige stert
• gryserige rug en sye
• ligkleurige bene
• snoet gewoonlik lig van kleur
• ore van “normale” grootte
Spoor:

Gedrag: Hoofsaaklik naglewend, maar meer aktief in koeler dagligure. Gewoonlik alleen of in pare, maar jag as enkelinge. Lê deur die dag in gate of digte struikgewasse, maar sal soms in die son lê by die ingang van die lêplek.
Jag so wyd as 5 km2. In sommige areas bereik hulle taamlik hoë populasiedigtheid ten spyte van swaar vervolging in sommige kleinveeboerderystreke. Hul getalle neig om laer te wees in areas waar rooijakkalse volop is.
By die seldsame geleenthede waar hierdie diere wel veeverlies veroorsaak, is dit gewoonlik gerig op lammers, pasgebore tot vier dae oud.
Doodmaak- of vangpatroon
• Een dier per geleentheid.
• Die keel of kop word gebyt.
• Baie klein tandmerke kan onderskei word
aan die nek, blad of kruis.
• Karkas word nie gesleep nie.
• Geen kloumerke sigbaar aan die karkas nie.
Vreetpatroon
• ‘n Klein opening word in die lies gemaak.
• Slegs die hart, abomasum (melkpens), sagte agterbeen of ’n kombinasie hiervan word gevreet.
• By seldsame geleenthede wanneer ’n groep vosse aan ’n karkas vreet, sal die boude gevreet word.
• Keer terug na die karkas.
• In sommige gevalle word die punte van ribbe gevreet, maar geen bene word gevreet nie.
Bestuursmetodes: Die silwervos rig nie groot veeskade aan nie. ’n Vanghok met aas soos vir ’n rooikat werk goed.
Voorkomend
• jakkalsbestande heinings
• elektriese heinings
• hou vee in ’n kraal
• afskrikmiddels – geraas, lig en reuke
• veewagters
• herdersdiere, bv. Anatoliese herdershonde
Remediërend
• vanghokke