Skip to main content

RPONK

ROOIJAKKALS

Share This :
IDENTIFIKASIE VAN ROOFDIERE

ROOIJAKKALS

(CANIS MESOMELAS)

Konflikkategorie: hoë konflikpotensiaal
Bewaringstatus: minste kommer
Algehele lengte: 95 – 115 cm; stert: 27 – 30 cm, skouerhoogte: 40 cm; massa: 7 – 10 kg.
Identifikasie-aanwysers:
• hondagtige voorkoms
• donker, witgevlekte saal op die rug
• swart stert
• redelike groot, spits ore, rooierig aan die agterkant
Spoor: Rooijakkalsspore is hondagtig en toon naelmerke. Die spoorprofiel is ovaal, langer in
die lengte as in die breedte.

 

Gedrag: Oorwegend ’n naglewende dier maar kan by tye in die dag te voorskyn kom. Bedags rus hulle gewoonlik in die skadu in hoër areas waar menslike aktiwiteit beperk is.
Die rooijakkals is baie sku en sal ten alle koste konfrontasie met mense vermy. Afhangende van die seisoen kom hulle enkel of in pare voor, en sekere tye van die jaar selfs as ’n familie. Werpsels word gewoonlik omstreeks Augustus gebore en bestaan uit vier tot ses welpies. Hulle word in donker ondergrondse lêplekke gebore en die mannetjie, die wyfie en die helper, ’n jong jakkals uit die vorige jaar se werpsel, sorg vir die kleintjies.
Die mannetjie en die wyfie merk hul gebied, waarvan die grootte afhang van die beskikbaarheid van voedsel en mededinging met ander dominante pare.

Doodmaak- of vangpatroon
• Vang normaalweg die dier aan die kant van die kop, aangesien hulle hul prooi jaag en byt wanneer hulle langs die dier hardloop.
• Die ore van die prooi word dikwels in die proses geskeur.
• Duidelike tandmerke tussen die oor en oog van die dier.
• Bytmerke kan ook voorkom aan die agterkant van die bene en aan die uier.
• Hulle maak gewoonlik een dier op ’n slag dood.
• Rooijakkalse vang nie net kleiner en swakker vee soos lammers nie, maar sal ook groter skape doodmaak.
• ’n Rooijakkals sal ’n koei aanval wat lê om te kalf, en sal aan die kalf begin vreet namate dit te voorskyn kom, of aan die koei se uier en die binnekant van die lies van die agterbene.
• Lewende kalwers van tot een week oud kan ook die rooijakkals ten prooi val.

Vreetpatroon
• Begin vreet by die lies in omstreke van die pens, en laat ’n velflap bly waaronder die prooi uitgehol is.
• Verwyder die ingewande en pens uit die liggaam.
• Vreet die sagter inwendige dele soos die hart, lewer en niere.
• Punte van die ribbebene word afgekou.
• Verwyder nie die karkas van die plek waar die dier gedood is nie.

 

Bestuursmetodes: Die rooijakkals is baie aanpasbaar en sy reproduktiewe kapasiteit is so hoog dat pogings om hulle geheel en al in ’n gebied uit te roei gewoonlik futiel is. Indien moontlik, moet bestuur gerig wees op die individue wat die skade veroorsaak.

Voorkomend
• jakkalsbestande heinings
• elektriese heinings
• hou vee in ’n kraal
• afskrikmiddels – geraas, lig en reuke
• veewagters
• halsbande
• herdersdiere, bv. Anatoliese herdershonde

Remediërend
• honde
• nagtelike jag
Persone wat belangstel om hierdie bestuursmaatreëls toe te pas, moet aansoek doen by die plaaslike natuurbewaringsowerheid.