+ 27 (0)53 832 9595 | +27 (0)82 604 1320 rpo@agrink.co.za

Boere moet seker maak hulle koop nie diere aan wat met Johne se siekte besmet is nie, omdat positiewe diere in sommige gevalle nie enige kliniese tekens toon nie, volgens die maandelikse verslag oor dieresiekteneigings soos informeel gerapporteer deur die Herkouer Veterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVASA).
Johne se siekte word deur die bakterie Mycobacteirum avium subsp. Paratuberculosis veroorsaak.

Johne se siekte affekteer die ingewandekanaal en die besmette diere toon erge diarree, gevolg deur ‘n stadige agteruitgaan van die dier, hoewel dit ‘n normale temperatuur en eetlus het. Johne se siekte het hoofsaaklik ‘n uitwerking op skape en beeste, maar dit is ook al in ander spesies gerapporteer.

Die bakterie is weerstandig teen hitte, koue en uitdroging. Dit kan vir lang tydperke in grond en water oorleef. Die siekte word deur besmette diere vrygelaat in die vorm van mis en melk en jong diere raak daarom gewoonlik geïnfekteer deur ‘n besmette omgewing of wanneer daar aan ‘n besmette dier gedrink word. ‘n Fetus kan ook besmet raak as die dragtige dier die siekte het. Die bakterie word deur die mis versprei voor die dier enige kliniese teken van die siekte toon en dit kan dus ongemerk versprei word. ‘n Skoon kudde raak gewoonlik besmet wanneer geïnfekteerde diere by ‘n kudde ingebring word.

Diere wys gewoonlik eers die kliniese tekens van die siekte wanneer hulle ouer is. Die bakterië veroorsaak dat die ingewande verdik en ontsteek. Dit lei tot ‘n verlies aan proteïene en die verswakking van spiere, selfs al is daar nie diarree nie. Die diere mag ook ‘n swelling onder die kaak kry. Hulle raak stelselmatig meer ondervoed totdat hulle uiteindelik doodgaan.

Diagnose van Johne se siekte berus gewoonlik op kliniese tekens, met ‘n positiewe toets wat benodig word vir bevestiging. Die grootste uitdagings in die beheer van die siekte is die moeilike identifikasie van besmette diere wat geen teken van die siekte toon nie en die huidige diagnostiese metodes wat beskikbaar is, wat nie baie betroubaar of doeltreffend is nie.

Daar is tans geen behandeling teen die siekte nie. Beheer word verkry deur goeie sanitasie en bestuurspraktyke, insluitende siftingstoete vir nuwe diere wat in die kudde ingebring word en die identifisering en uitskakeling van besmette diere op die plaas. As ‘n plaas besmet is, behoort die diere se geboortearea geen mis te hê nie. Dit mag nodig wees om die pasgebore dier van die koei/ooi te verwyder en siektevrye kolostrum te voer terwyl dit apart van die res van die diere grootgemaak word.

Hoewel daar entstowwe teen die siekte is, is die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye gekant teen die wydverspreide, onbeheerde gebruik van die entstof. Inenting is slegs toelaatbaar op ‘n plaas wat reeds met Johne se siekte besmet is en met die toestemming van die staat se veterinêre dienste.

Share This