+ 27 (0)53 832 9595 | +27 (0)82 604 1320 rpo@agrink.co.za

Het ons vordering gemaak met koeidoeltreffendheid in beesvleis-produksiestelsels?

Die meeste van die kostes in koei-kalfproduksiestelsels het te make met koei-onderhoud en die produksiebehoeftes van dragtigheid en laktasie, en omdat die kalfgewig die hoofuitset is, is die verhouding tussen die kalf- en koeigewig ‘n maklike verstaanbare maatstaf van koeidoeltreffend. Natuurlik is daar meer omvattende maatstawwe wat meer faktore insluit, maar vir die doeleindes van hierdie aanbieding is die koei-kalfverhouding voldoende, maar bepaal oor ‘n aantal jare om vir jaarskommelings voorsiening te maak. Baie faktore beïnvloed koeidoeltreffendheid, insluitende koei-onderhoud, voedingsbehoeftes van dragtigheid en laktasie, kalfonderhoud- en groeibehoeftes, en kalfgewig. Die belangrikste is reproduksieprestasie. Reproduksie het ‘n diepliggende invloed op koeidoeltreffendheid en dit ongeag van ander faktore soos voerverbruik en kalfgewig. Doeltreffende koeie is dié wat gereeld kalwers produseer, terwyl die relatiewe belangrikheid van ander faktore verander afhangende van produksie-omgewing en markkragte. Die outeurs van die artikel wat hieronder aangehaal word, het ‘n paar SuidAfrikaanse studies geraadpleeg om vordering in koeidoeltreffendheid en verandering in verwante faktore te ondersoek.

Teneinde voorsiening te maak vir reproduksieprestasie en te korrgeer vir raamgrootte van die koei, het die outeurs die volgende vergelyking vir koeidoeltreffendheid gebruik: 205-dag speengewig van die kalf/koei GVE eenheid x kalfpersentasie, waar GVE die Grootveeeenheid is en kalfpersentasie beraam is van tussenkalfperiode.

Die resultate het getoon dat koeidoeltreffendheid in sekere rasse verbeter het maar in ander verswak het. Die hoof bydrae tot koeidoeltreffendheid was tussenkalfperiode (44- 51%), gevolg deur speengewig van die kalf (32-33%). Die bydrae van koeigewig (uitgedruk in GVE) was betreklik min (17-24%). Die waarneming dat tussenkalfperiode van 10 rasse met 10 dae of meer toegeneem het van 1999 tot 2008 is onrusbarend. Omdat vrugbaarheid ‘n belangrike maatstaf is van aanpasbaarheid, is die vraag of hierdie waarneming reeds daarop dui dat klimaatsverandering begin om sy tol te eis en of dit slegs ‘n geval is dat vrugbaarheid verwaarloos word. Aangesien koeidoeltreffendheid met kruisteling verbeter het met tot 46%, met die hoofbydraer kalfspeenpersentasie (en derhalwe kalfpersentasie), is laasgenoemde heel waarskynlik. Kruisteling kan toegepas word sonder bykomende kuddekoste vir die boer as goedgestruktueerde kruisstelsels saamgestel word.

Die pad vorentoe verg teeldoelwitte om koeidoeltreffendheid en vrugbaarheid te verbeter. Daarmee saam moet vroeg-identifiseerbare eienskappe vir vrugbaarheid ondersoek teneinde vrugbaarheid te verbeter.

Share This