+ 27 (0)53 832 9595 | +27 (0)82 604 1320 rpo@agrink.co.za

Deur Heinz H. Meissner.

ONDERWERP: Beïnvloed produksiestelsel werklik vetsuursamestelling in beesvleis?

Spiersamestelling in beeste kan deur ouderdom van die dier, voerprogram, groeibevorderaars en karkasvariasie by slagting beïnvloed word. Daar is getuienis dat die tipe dieet die bruto- en vetsuursamestelling van beesvleis kan verander. Die literatuur wys dat vleis van beeste wat op weiding afgerond word gesonder is as beesvleis vanaf voerkrale weens ‘n laer vetinhoud en ‘n meer gewenste vetsuurprofiel. Beesvleis vanaf weiding het gewoonlik ‘n hoër inhoud van CLA, n-3 PUFAs en onversadigde tot versadigde vetsuurverhouding, en ‘n laer n-6/n-3 verhouding, sowel as ‘n laer versadigde vetsuurinhoud en n-6 PUFAs as beesvleis vanaf weiding. In Suid-Afrika egter word beeste vanaf weiding later geslag as beeste vanaf voerkrale wat die invloed van ouderdom in die variasie toevoeg. Voorts, met weidingstelsels kan ouderdom verskil afhangende van bemarkingsdoelwitte. Spiervetinhoud vermeerder met ouderdom wat natuurlik vetsuursamestelling sal beïnvloed. Verder sal groeibevorderaars soos Zilpaterol die proteïeninhoud van die spier vermeerder en/of die vetinhoud verlaag. Die afname in karkasvet sal natuurlik ook die vetsuurprofiel beïnvloed. Dus, ten minste in die SA situasie, sal die verslae uit die literatuur nie noodwendig geld nie. Gevolglik was die doelwit van die studie wat hieronder na verwys word, om te bepaal tot watter mate ons produksiestelsels die bruto- en vetsuursamestelling beïnvloed, sowel as die variasie geskep deur die invloed van Zilpaterol, ouderdom van die dier en voerprogram gevolg binne die verskillende produksiestelsels.

Behandelings was osouderdom saam met voerprogram (voerkraal of weiding) en die insluiting van Zilpaterol in die voerkraalprogram. Daarvoor is 80 Bonsmara-ossies gebruik waarvan 20 elk aan die behandelings toegeken is, onderskeidelik: A-ouderdom (O permanente snytande), voerkraalprogram (AV); voerkraalprogram plus Zilpaterol (AZ); weiding, AB-ouderdom (1-2 permanente snytande)(AB); en B-ouderdom (3-6 permanente snytande)(B). Bruto- en vetsuuranalises is op die longissimus lumborum (LL), biceps femoris (BF) en semitendinossus (ST) spiere uitgevoer.

Die chemiese samestelling van al drie spiere het getoon dat Zilpaterol proteïen laat toeneem het en vet verminder het. Voorts het die spiere in beide die weidingsgroepe (AB en B) ‘n hoër samestelling van die gewenste vetsure soos gekonjugeerde linoleïensuur (CLA), omega-3 (n-3) and vertakte ketting versadigde fitanien suur gehad, en ‘n laer verhouding van omega-6/omega-3 (n-6/n-3) as die voerkraalbehandelings. Die vetsuursamestelling van voerkraalgevoerde spiere was in die algemeen nie beïnvloed deur die insluiting van Zilpaterol nie, behalwe dat daar ‘n neiging was vir ‘n hoër inhoud van n-6 poli-onversadigde vetsure (PUFA) in die Zilpaterol groep. Dit was hoofsaaklik toe te skryf aan hoër peile van linoleïensuur in die L en ST spiere en hoër CLA in die BF spier van AZ ossies. Ouderdomsverskille in die weidingsgroepe (AB versus B) het weinig invloed gehad op die vetsuursamestelling van die spiere.

Daar is tot die gevolgtrekking gekom dat verskille in vetsuursamestelling van die drie spiere hoofsaaklik beïnvloed word deur voedingsprogram en minder deur produksiestelsel binne ‘n voedingsprogram. Nietemin moet hierdie resultate in perspektief gesien word, want die ordegrootte van die vetsuurverskille, alhoewel betekenisvol, was dikwels klein. Die spiervetinhoud was meesal minder as 1.5%, terwyl slegs die AC LL ‘n vetinhoud naby 3% gehad het.

Reference: E. Moholisa, P. E. Strydom & A. Hugo, 2018. The effect of beef production system on proximate composition and fatty acid profile of three beef muscles. S. Afr. J. Anim. Sci. 48 (2), 295-306.

Share This