+ 27 (0)53 832 9595 | +27 (0)82 604 1320 rpo@agrink.co.za

As aankope by veilings gemaak word, is daar dikwels verwagtinge dat dit diereverbetering tot gevolg sal hê. Geen boer wat sy sout werd is sal willens en wetens ‘n siek of besmette dier aankoop nie. Daar is egter ‘n groep siektes wat in skynbaar normale diere kan skuil en kopers maklik om die bos kan lei.

Dié groep siektes word gekenmerk deur die volgende:

  • Dit kan in skynbaar gesonde diere voorkom en vir lang periodes nie opgemerk word nie.
  • Net een draer is genoeg om ‘n siekte in ‘n kudde in te dra en te vestig.
  • Dit is duur en/of moeilik en partykeer selfs onmoontlik om van party van die siektes ontslae te raak.
  • Vir die meeste van die siektes is daar regsimplikasies vir boere wat daarvan bewus is dat dit in hul kuddes teenwoordig is, maar nalaat om dit by veilings te verklaar. In sommige gevalle is dit onwettig om diere met die betrokke siektes te verkoop.

Watter siektes is betrokke?

  • Johne se siekte. Boere het rede om bang te wees vir dié siekte. Dit is ‘n staatsbeheerde siekte.
  • Vrotpootjie by skape, wat onderskei moet word van pootabsesse.
  • Jaagsiekte. Hoewel dit min voorkom, besmet dit die kudde permanent.
  • Skaapbrandsiek, nog ‘n staatsbeheerde siekte.
  • Gevallene linfadenitis (CLA), kaasagtige klierabsesse, moeilik om te beheer en uit te wis.
  • Veneriese siektes soos Brusella ovis, Actinobacillus seminis en peestersiekte.
  • Velsiektes soos Bolo-siektes en ringwurm.
  • Weerstandige ringwurms, veral draadwurm.
  • Enzoötiese aborsies. As dit op die plaas ingebring word, sal die hele ooikudde vir baie jare of langer ingeënt moet word.
  • Draaisiekte (Gid), waar skape ‘n sist op die brein ontwikkel. Die lintwurm kom in honde en jakkalse voor.
  • Lewer-lintwurms waar vleie en waterbronne met die regte gasheer (waterslakke) permanent besmet kan raak.
  • Orf-virus, wat baie weerstandig is, kan by ‘n veilingskraal of gedurende die vervoer van diere oorgedra word.
  • Hartswaterbosluise kan plase infekteer as dit besmet raak met die hartswaterorganisme.
  • Beide rooi- en blou bosluise kan maklik by skoue en veilings misgekyk word.
  • Ander bosluise soos die Karoo-bosluis kan onwetend by skaap- en bokveilings versprei word.
  • Skaapbrandsiekte is onwetend die land ingebring en al die betrokke skape is uitgewis.
  • Leukose word nie dikwels aangemeld nie, maar kopers moet daarvan bewus wees.

Dié lys is die belangrikste bedreigings, maar daar is nog baie meer sulke siektes.

Hoe kan risiko’s beperk word?

Elke siekte het sy eie beheermaatreëls, maar die volgende algemene riglyne moet gevolg word by veeveilings:

  • Moenie van onbekende bronne aankoop nie en beperk die aantal plase vanwaar daar aangekoop word. Die bron behoort bekend en betroubaar te wees.
  • Inspekteer diere wat te koop aangebied word deeglik – die kop vel, hoewe en geslagsorgane behoort spesiale aandag te kry.
  • Kwarantyn alle nuut-ingekoopte diere vir ses weke in isolasie op beton of gruis met geen gras nie.
  • Selfs al sê die verkoper die diere is teen ‘n sekere siekte aangemeld, ent die diere weer in vir gemoedsrus.
  • Dip die diere met geregistreerde produkte wat eksterne parasiete sal doodmaak, maar hou in gedagte dat daar moontlik weerstand teen die aktiewe bestanddeel kan wees.
  • Doseer diere met die beste beskikbare ontwurmers en doen tien dae later ‘n ondersoek om te sien of daar eiers is op die diere se uitskeiding om seker te maak dat wurms verwyder is.
  • Bekom professionele advies en aanbevelings van ‘n plaaslike veaarts.
  • Maak seker jy ontvang ‘n verkopersdeklarasie van die voornemende verkoper. Dit is die koper se reg en plig om dié inligting aan te vra voor diere aangekoop word. As die verkoper weier, is dit maklik om ‘n afleiding te maak.
Share This