+ 27 (0)53 832 9595 | +27 (0)82 604 1320 rpo@agrink.co.za

Die land se beste streek- en nasionale slaghuise is tydens ‘n middagete in Johannesburg aangekondig. Dit is bygewoon deur senior lede van die vleisproduksie- en handelsbedryf, finaliste, beoordelaars en die media.

Ses nasionale en 39 provinsiale slaghuise het vanjaar Platinum of Goue Cleaver toekennings ontvang. Meer as 30 000 openbare nominasies is tussen Oktober en Desember 2016 via SMS of aanlyn ontvang. Hiervan is 150 finaliste individueel en anoniem volgens ‘n 21 punt-kontrolelys beoordeel. Sommige finaliste het tot 99,8% behaal.

Rudi van der Westhuizen, Uitvoerende Direkteur van SAMIC, het gesê die vordering wat op ‘n jaar tot jaar basis gesien word is noemenswaardig, veral weens die feit dat die meeste van die slaghuise altyd iets nuuts probeer om hul telling te verbeter en toppresteerders te bly. Dié toekennings het oor die afgelope paar jaar ‘n merkwaardige impak op die standaarde van Suid-Afrikaanse slaghuise gehad.

Sedert die toekennings in 2005 in die lewe geroep is, toon terugvoer van verbruikers ook dat hulle die Cleaver-toekennings as ‘n waarborg van gehalte beskou. Dié toekennings, ‘n inisiatief van die Suid-Afrikaanse Rooivleisbedryfsforum, gee erkenning aan slaghuise wat aan die verbruiker se verwagtinge voldoen in terme van higiëne binne die winkel, die voorsiening van kwaliteitsversekerde rolgemerkte Suid-Afrikaanse beesvleis, hul vlak van mededingheid om die beste advies oor maaltydvoorbereiding te gee asook goeie waarde vir geld.

Terwyl baie van die beste slaghuise jaar ná jaar ‘n Cleaver-toekenning verower, het ‘n nuwe neiging vanjaar ontwikkel, waar nuwe slaghuise wat vir die eerste keer genomineer is, wen. Dit sluit nuwe slaghuise in wat deur voormalige Cleaver-wenners geopen is, soos Boma Vleismark met hul nuwe winkel, Boma Olympus in Faerie Glen, Pretoria, wat ‘n Nasionale Platinum-toekenning verower het.

Slaghuise is in die volgende drie kategorieë beoordeel:

  • Slaghuise met vier of meer kasregisterpunte. Impala Vleis, Brits het die Platinumtoekenning ontvang en Boma Vleismark, Morelettapark het Goud in die nasionale kompetisie ontvang.
  • Slaghuise met drie of minder kasregisterpunte. Boma Olympus, Faerie Glen het die Platinum-toekenning ontvang en Uitkyk Vleismark, Lichtenburg het Goud in die nasionale kompetisie ontvang.
  • Voedselmarkte/supermarkslaghuise. The Grove Superspar Riverside, Nelspruit het die Platinum-toekenning ontvang en Superspar Edenglen het Goud in die nasionale kompetisie ontvang.

Die Cleaver-toekennings is een van die inisiatiewe van die Suid-Afrikaanse Rooivleisbedryfsforum om plaaslike beesvleis te bevorder en erkenning te gee aan diens van ‘n hoogstaande gehalte.

Share This