+ 27 (0)53 832 9595 | +27 (0)82 604 1320 rpo@agrink.co.za

Alle veeboere word versoek om hul beeste, skape en bokke dringend teen miltsiekte in te ent. Miltsiekte kom ook voor by wild en derhalwe mag wildsvleis wat besmet is met miltsiekte, onder geen omstandighede geëet word nie.

Boere moet ook uiters versigtig wees wanneer nuwe diere ingekoop word en seker maak dat die diere siektevry is. Die beweging van diere (vee en wild) moet sover as moontlik vermy word en indien enige gevalle van vrektes voorkom, moet die karkas met die grootste omsigtigheid hanteer word en nie oopgesny word nie.

Dit volg ná ‘n uitbreking van miltsiekte naby Maseru in Lesotho bevestig is. In dié geval is mense ook met die virus besmet nadat die karkasse oopgesny en die vleis geëet is.

Die besmette gebied is binne ‘n radius van tien kilometer onder kwarantyn geplaas. Boere van die Ha-Tseka-distrik is gewaarsku om hul diere nie na ‘n skou in Maseru te neem nie en die beweging van diere tussen die Vrystaat en Lesotho sal beperk word en geen handel van diere sal toegelaat word nie.

Die gebiede wat betrokke is sluit in Ladybrand in die Maseru-sone, Zastron, Wepener, Maputsoe, Botha Bothet en Thabo Mofutsanyane.

Miltsiekte word deur ‘n bakterie Bacillus anthracis veroorsaak. Diere kry miltsiekte wanneer hulle besmette plantmateriaal, water of selfs bene van dooie diere inneem.

Diere wat miltsiekte kry, wys die volgende tekens: hulle vreet nie; het ‘n daling in melkproduksie; melk mag bloederig wees; die diere haal moeilik asem en lê gereeld.

Vrektes kan binne 72 uur ná besmetting plaasvind. In sommige gevalle loop daar bloed uit die anus en neusholtes uit.

Elke milliliter bloed van ‘n dier wat vrek aan miltsiekte, bevat miljoene van die bakterieë. Hierdie bloed besmet die omgewing. Die bakterieë kan dan vir tot 250 jaar in die omgewing oorleef as ‘n spoor (weerstandbiedende vorm van die bakterie). Spore word gevorm wanneer besmette liggaamsvloeistof in aanraking kom met suurstof (bv. waar ‘n dier gebloei het, of indien ‘n miltsiektekarkas oopgesny word). Om hierdie rede moet ‘n miltsiektekarkas nooit oopgemaak word nie.

Mense wat miltsiekte opdoen, kry ‘n velvorm van die siekte indien wonde besmet word, ‘n longvorm indien hulle spore inasem en ‘n dermvorm van die siekte indien besmette vleis geëet word. Die longvorm is die dodelikste.

Volgens wetgewing (Wet 35 van 1984) móét alle diere elke jaar teen miltsiekte ingeënt word.

Beheer van miltsiekte by diere
– Vee moet jaarliks teen die siekte ingeënt word.
– Karkasse van diere wat vermoedelik aan miltsiekte dood is, moenie oopgesny word nie.
– Sulke karkasse moet ten minste twee meter diep begrawe word en die grond moet deeglik met kalk chloried behandel word.
– Karkasse kan ook verbrand word sonder dat hulle oopgesny word.
– Verdagte gevalle moet dadelik by die naaste dieregesondheidstegnikus of staatsveearts aangemeld word.
– Die staatsveearts kan metodes voorskryf om die terrein, voertuie en ander produkte te ontsmet.

Beheer van miltsiekte by mense
– Die vleis van besmette karkasse mag nie geëet word nie.
– Alle kontak met die karkas van ‘n dier wat aan miltsiekte gevrek het, moet vermy word.
– Beskermende klere moet gedra word wanneer die karkas begrawe of verbrand word.

Simptome
– Diere kan binne twee ure vrek sonder om enige kliniese simptome te toon.
– Koors.
– Moeilike asemhaling.
– Spierspasmas en rooiheid van slymvliese kan voorkom.
– Bloederige uitskeiding uit die neus, mond en anus.
– By gevorderde gevalle kan swelling van die kop en nek voorkom, wat tot asemhalings- en slukprobleme kan lei.

Diagnose
– Miltsiekte word deur middel van ‘n bloedsmeer gediagnoseer.

– ooo O ooo –
Datum : 29 Mei 2019

Navrae :
Mnr Koos van der Ryst Mnr Gerhard Schutte
Voorsitter Hoof-uitvoerende Beampte
Selfoon : 083 303 7926 Selfoon : 082 556 7296

Share This